"Ma wat kan ek doen? Ek is verveeld.” As jy moeg is om hierdie rympie uit jou kind se mond te hoor, dan het ek dié week vir jou die antwoord.
Al die boeke is spesiaal gekies om hulle besig te hou, maar terselfdertyd iets te leer. Leer is beslis meer pret as dit nie soos skool voel nie. En as dit in volkleur met plakkers, magnete en skoonvee-penne gebeur, des te beter. So, terwyl jy jou kind besig hou met die hopie boeke kan jy ‘n welverdiende tydjie vir jouself afknyp!
Onthou om ons boekwinkel te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.
Skoonvee Pretboek: By die See, Brenda Apsley ( Human & Rousseau, R120 ) Ideaal om ‘n kind te leer van allerhande dinge by die see en ook in die see. Dis ‘n pretboek waarin die kind kan leer hoe om seker diere te teken. Die prentjies kan afgevee word en weer geteken word. Dan is daar ook magnete waarmee tonele voltooi kan word. ‘n Heerlike kreatiewe manier vir kinders tussen die ouderdomme van drie en tien jaar om te leer. Die boek is kleurryk en die illustrasies deur Craig Cameron maak dit ‘n mooi boek om deur te blaai. Die nateken-instruksies is ook eenvoudig en enige kind sal dit stap vir stap kan volg. In hierdie reeks is daar nog boeke: Skoonvee Pretboek: Dinosourusse en Skoonvee Pretboek: Plaasdiere. Hierdie hele reeks is ideaal vir kleuterskole en is ‘n nuttige stukkie gereedskap waarmee juffrouens woelwaters kan besig hou en sommer terselfdertyd nuwe dinge leer.
BEN EN DIE WALVISSE - Ingrid Mennen
Walvisse speel in die see ver onderkant die ou voetpaadjies waar Ben en Oupa baiekeer gaan stap. Die windskeef melkhout is hulle uitkykpos. Van daar hou hulle die walvisse dop. “Wonderbaarlik en misterieus,” noem Oupa hulle, “vlieënde reuse van die see!”
Maar later, skuins voor somer, verander dinge: Oupa bly in die bed. Dae gaan verby…en toe word Oupa begrawe. Dis moeilik om tot siens te sê.
Dan neem Pa vir Ben op die bekende voetpaadjie, en onder die melkhout vertel Pa die storie van ‘n walviskalf wat lank gelede in hulle baai gebore is, en van die ou bultrug saam met wie die walviskalf graag in die baai rinkink het. Maar die ou bultrug kon uiteindelik nie die tog saam met die ander walvisse na die Antarktiese see aanpak nie, en die jong walvis moes leer afskeid neem.
Ben en die walvisse is a pragtige verhaal oor hoe om verlies te verwerk wat ouers en kinders se harte sal aanraak. Deur bekende natuurbeelde en -feite word die jong kind gelei tot aanvaarding en berusting.
MY KLEIN BOEKIES: (Aktiwiteitsboekies – 6 boekies in elke stel) Om te tel Kleur Alfabet Baba diere Vorms
DIE WIELE VAN DIE BUS - Teckentrup, Britta
Sing “Die wiele van die bus” saam met met die diere op die bus! Spring op die besige bus en word deel van die pret met raserige klankknoppies!
JONG KINDERS
Fanie Viljoen - Slym en die gogga-sirkus
Die gogga-sirkus is hier! Slym en die paddas in juffrou Plat Anna se klas is baie opgewonde oor die pragtige rooi-en-wit sirkustent. Daar is slakke wat suigstok-toertjies doen, sprinkane baljaar op trampoliens en die krieke oefen vir die sirkus-simfonie. Maar iewers sluip 'n skelm met bose planne rond ... Sal Slym en sy beste vriend, Paddavoet, 'n plan kan maak voordat dit te laat is? As jy gehou het van Slym se eerste avontuur, gaan jy mal wees oor Slym en die gogga-sirkus. Dit is weer propvol humor en aksie. Dit kan gebruik word vir voorlees en selflees deur jong lesers.
Fanie Viljoen - Kaptein Hamerkophaai Het jy al ooit gewonder wat sal gebeur as jy die domste vraag waaraan jy kan dink in die klas vra? Devon het dit gedoen en die volgende oomblik het kaptein Hamerkophaai – seerower, sakkeroller, stranddief, vrybuiter, bedrieër en plunderaar van formaat – sy verskyning gemaak! Kaptein Hamerkophaai het as vervolgverhaal in KleinB, Die Burger se weeklikse kinderblad, verskyn. Lesers het met opgehoue asem gewag vir elke week se aflewering. Nou kan kinders van oraloor deel in die spitsvondige kaptein Hamerkophaai en sy trawante se avonture! Jy kan ook die voorlesing en lesplan van Kaptein Hamerkophaai van Die Burger se webblad aflaai by die Klein Burger.
JACO JACOBS - Zackie Mostert (6 boekies in reeks)
Jaco Jacobs stel dié onnutsige karakter aan lesers voor en vertel alles oor Zackie se avonture met ongelooflike kulkuns, ʼn (byna) briljante idee, ʼn super-aaklige soen, die gemaskerde groen gevaar, ʼn spokerige storie, ’n rugby-avontuur en skaterlaggrappe.
OUER KINDERS
Fanie Viljoen - Nog 13 Spookstories Glo jy aan spoke? Word jy bang vir vreemde goed wat ronddwaal in die nag? 13 Spookstories gaan sorg dat jy die komberse tot onder jou ken trek vanaand. Wie weet wat vir jou wag as jy die lig afsit? Hierdie bundel bevat 13 super-grillerige verhale oor vreemde besoekers uit nog vreemder plekke ...
TIENERS - MEISIES
Maasdorp-reeks - geskryf deur Stella Blakemore
Sedert sy ontstaan in 1932 het die Maasdorpreeks meisies aan die lees gehad. Dat Stella Blakemore se boeke steeds van die gewildste reekse is, bewys dat hierdie skryfster verstaan het wat jong lesers in ‘n goeie storie wil hê.
Die reeks handel oor Kobie Malan en haar maats, en wie eenmaal met Kobie en haar maats kennis gemaak het, sal Maasdorp nooit vergeet nie.
Die oorspronklike Maasdorp-reeks wat tussen 1930 en 1960 geskryf is het uit 16 boeke bestaan. Die uitgawe van die 1970’s is egter verkort na slegs 12 boeke. Die sagteband uitgawe deur Human & Rousseau van die 2000’s bestaan weer uit die oorspronklike 16 boeke.
1. Meisies van Maasdorp (1932) - Stella Blakemore 2. Die jongste meisie van Maasdorpskool (1933) - Stella Blakemore 3. Kobie regeer (1935) - Stella Blakemore 4. Kobie en die wonderkind (1939) - Stella Blakemore 5. Allegra op Maasdorp (1942) - Stella Blakemore 6. Maasdorp se drie musketiers (1943) - Stella Blakemore 7. Maasdorp se nuwe onderwyser - Stella Blakemore 8. Hoofmeisie Kobie - Stella Blakemore 9. Kobie gaan verder - Stella Blakemore 10. Juffrou Kobie - Stella Blakemore 11. Jongspan op Maasdorp - Stella Blakemore 12. Niggies op Maasdorp - Stella Blakemore 13. Maasdorp se redaktrises - Stella Blakemore 14. Maters op Maasdorp - Stella Blakemore 15. Maltrappe op Maasdorp - Stella Blakemore 16. Nukke op Maasdorp - Stella Blakemore 17. Ontgroening op Maasdorp - Stella Blakemore 18. Lalage op Maasdorp - Stella Blakemore
Maasdorp-reeks (1970 uitgawe) 1. Meisies van Maasdorp - Stella Blakemore 2. Die jongste meisie van Maasdorpskool - Stella Blakemore 3. Kobie regeer - Stella Blakemore 4. Kobie en die wonderkind - Stella Blakemore 5. Allegra op Maasdorp - Stella Blakemore 6. Maasdorp se drie musketiers - Stella Blakemore 7. Maasdorp se nuwe onderwyser - Stella Blakemore 8. Hoofmeisie Kobie - Stella Blakemore 9. Kobie gaan verder - Stella Blakemore 10. Juffrou Kobie - Stella Blakemore 11. Ontgroening op Maasdorp - Stella Blakemore 12. Lalage op Maasdorp - Stella Blakemore
FANIE VILJOEN- Betower
Nadia het ’n geheim. En die geheim is die rede waarom sy by haar ouma in die Magoebaskloof moet gaan bly. Hier ontmoet sy vir Poenk. Bos-Poenk. Geheimsinnige Poenk. Poenk wat haar leer hoe paddaeiertjies ruik. Wat haar wys dat daar kleure soos ritselgroen, bangmaakgroen, fluistergroen, kieliegroen en flikkergroen bestaan. Poenk wie se naam sy oor en oor in haar huiswerkboek skryf. Wat vir haar gedigte lees en vir haar sprokies vertel. Poenk wat self ’n geheim in hom ronddra.
Het jy Dalene Matthee se bosromans geniet? Hier is nou 'n bosroman vir tieners en almal wat nog jonk van hart is en glo in die wonder van die Lewe. Betower is 'n boek van hoop, liefde en geheime. Sien die wêreld deur Poenk se oë en word betower ...
TIENERS - SEUNS
FANIE VILJOEN - Nova Reeks
Nova: Vuurdoop
In Nova: Die Begin is Lucas en sy vriende op skrikwekkende wyse na ’n VVV weggevoer. Hulle het ontsnap en nou keer alles weer terug na normaal. Of só dink Lucas ... Hulle mediese toetse wys dat alles piekfyn is, maar dan waag Lucas dit om vir sy pa te vertel wat in die VVV met hulle gebeur het: “Die aliens het ons vasgemaak op tafels, Pa. Hulle het ’n sny in my kop gemaak ... Daar was bloed. Ek kon dit voel afloop teen my slape. Ek was nog nooit so bang nie.” Hierdie woorde gooi die volgende avontuur in hierdie wetenskapfiksie-reeks in snelrat. Die geheimsinnige Sterreloper los vir Lucas twee geskenke: ’n tipe knipmes met ’n laserstraallem en ’n eCom waarmee hy kan kommunikeer. ’n Vreemde man is op Lucas se spoor en waag dit selfs in sy huis wanneer Lucas se ouers nie tuis is nie. Maar die vreemdste van alles is die skrikwekkende visioene wat Lucas onverhoeds begin teister. Wat beteken hulle? Sal hulle ooit ophou? En sal Lucas en sy vriende hulle ruimtelike vuurdoop oorleef?
TOPSY SMITH - Trompie reeks
Die Trompie-reeks het ʼn belangrike bydrae tot Afrikaanse jeuglektuur gemaak en was vir baie jongmense van sy era ʼn rolmodel.
Trompie Toerien was die onverskrokke 11-jarige kaptein van Kwaggaberg se mees berugte bende, die Boksombende. Hy het sproete en 'n wipneus gehad, sy hemp het gedurig uitgehang en sy skoene se punte was nerfaf omdat hy gedurig klippe en blikke (en soms sy ma se dahlias) loop en skop het. Trompie was 'n ondeunde knapie, maar hy het 'n goeie hart. Hy's alewig in die moeilikheid by die skool en by die huis. Trompie het in ʼn huis vol dissipline grootgeword...hy het sy pa en ma 'vader' en 'moeder' genoem.
COR DIRKS - Uile reeks & Otter reeks Die Genootskap van die Uile is verbind tot reg en geregtigheid. Die groot Uil, sy adjudant en drie manskappe beleef talle avonture.
GERRIE RADLOFF - Die Buiter reeks & Oloff die Seerower reeks
Ons land en ons seë het soms skitterende pionierswerk, onder baie buitengewone omstandighede, van sy seuns gewerf.
Om ons kuste het byvoorbeeld handelsvaarders met skatryk vragte vanaf die Ooste gekom. In afgeleë skuilplekke het die skuim van die see onverwags op hulle toegeslaan. Oloff die Seerower is ‘n reeks kleurvolle verhale van die verbete stryd om ons kuste. Dit vertel hoedat ‘n dapper eintlik roekelose jong man uitvoering gegee het aan ‘n eed om die see van die wetteloses skoon te vee.